Ek was vir 15 jaar in die tandheelkunde bedryf en het gewerk as Tandtegnikus. Vir díe wat nog nie kunstande dra en weet wat 'n Tandtegnikus doen nie, dis die man wat vir oumense kunstande maak en vir die jongere geslag mooier tande maak soos porselein krone en goue krone ens. Ons het ook selfs vir die mense gehelp met skewe tande om die tande weer reguit te kry en het ook selfs baie met inplantate gewerk; dis die moderne manier van tande maak wat veronderstel is om permanent in jou mond vasgeskroef te word en wat meer kos as 'n plaas!

Dit was my droom! As ek die hele dag in tande kon vaskyk, (natuurlik nie ander mense se vuil kunstande waaraan die groen en bruin aanpaksels gesit het nie) dan het ek. Mens kan nie glo dat daar soveel klein detail in elke tand in mens se mond is nie; dat God soveel moeite gedoen het om elke groefie of slootjie op daardie tand te sit met 'n doel. Hy weet net die beste!

 

Voor in my kas met klere, het tande gestaan. Dis nou bietjie agtertoe geskuif. In my kar was tande, aan my sleutels was tande - net oral! Ek het in 'n laboratorium in Midrand gewerk waar ons baie profesionele werk gedoen het en ook baie van die groot werkstukke wat so klomp geld gekos het. Hierdie laboratorim was een van die voorste laboratoriums wat die tegnologie aanbetref, daarom dink ek dat ek gelukkig was om daar te gewees het en om al die tegnologie te kon leer.

My seisoen het aangebreek om daar weg te gaan en ek was so paar maande werkloos en het so hier en daar uitgehelp om aan die lewe te bly tot ek besluit het om my eie laboratorium te begin. Ek het baie by een spesifieke laboratorium verbygery as ek my kind skool toe vat en dan het my vrou gesê ons moet hoor of die plek in die mark is. Op 'n dag het ons gehoor dat dit wel in die mark is en ons het besluit ons gaan koop. Dit was 'n baie opgewonde stap om jou eie besigheid te hê, maar ons het nie God se wil gevra in die besluit nie en om die waarheid te sê ons het nie God geken soos ons Hom vandag ken nie. Mens dink as jy elke Sondag kerk toe gaan dan is jy OK, maar Sy Woord sê: "Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak". Nooit het dit té goed gegaan in die besigheid nie, maar ons het oorleef, danksy my oortrokke fasiliteit! Ek het die laboratorium vir 3 jaar gehad en kon nooit baie kliënte kry nie. Ek moes oorleef met die paar wat ek gehad het.

Op 'n dag word my vrou wakker die een oggend en sê vir my dat God vir haar vroeg in die oggend ure gesê het dat ek uit die Tandheelkunde bedryf moet gaan. Hy het vir haar gesê dat die mense nie my werk en die kwaliteit daarvan waardeer nie. In hierdie bedryf is daar ongelukkig baie oneerlike wanpraktyke wat die Raad vir Tandtegnici al vir jare probeer keer, maar hulle kry dit nie reg nie. Die oneerlikheid in die beroep was ook een ding wat die Here vir haar gesê het, wat Hom pla. Die oggend wat sy vir my vertel wat die Here vir haar gesê het, het ek kennis gegee by die Tandarts waar ek my geboue by gehuur het.

Net 'n week vantevore het iemand ons vertel van 'n man wat baie profeties is en ons het hom gebel  om te hoor of hy ons kan sien. Hy wou eintlik nie, want hy was met vankansie of op pad iewers heen vir 'n ruk, maar net voor hy totsiens sê oor die foon, sê hy vir Louise dat die Here het nou vir hom gesê hy moet ons sien. Hy sê toe vir my dat hy 'n kamera in my hand sien, wat vir my nogal goed geklink het, want ek hou van 'n mooi foto en kan 'n mooi foto neem. In die 2 maande wat ek moet kennis gee, het ons gewonder watter werk gaan ek doen met die kamera wat die ou van praat en twee dae nadat ek uitgetrek het uit my perseel, toe vra 'n engelse kerk my om in beheer te wees van hulle multimedia afdeling; dit behels die afneem van preke en getuienisse en om dit te redigeer en dan op DVD te sit. Daar het ek nie 'n groot salaris gekry nie, maar het ten minste nie die bekommernis gehad van óf daar geld gaan wees of nie.

Dinge het ons bietjie gepla by die kerk, maar ons het uitgehou tot op 'n dag wat ons net vir die Here gevra het dat Hy vir ons moet deure begin toe maak omdat dit wat ons gepla het, net groter geword het. Op 'n dag sit ons weer in die kerk, toe kondig die pastoor af dat die kerk toe maak. Dit was 'n groot skok, want nou is ek weer werkloos, maar toe besef ons dat ons daarvoor gevra het.

Nou sit ek weer met 'n probleem en daar was soveel dinge wat ek wou doen en kon doen, maar net nog nie gedoen gekry het nie. Ek is nou in die laaste maand van die een jaar wat ek werkloos was (of nog is) en die Here het ook so rukkie gelede vir Louise wakker gemaak en vir haar gesê dat my Sabbatsjaar was en dat daar net voorspoed voorlê!!!!

In die tussentyd, terwyl ek nog die laboratorium gehad het, het ek 'n "Graphic Design" kursus gedoen waar ek 'n goeie werk met 'n goeie salaris belowe is deur die aanbieder, waarvan niks gekom het nie. Ten minste het ek die kennis wat niemand van my kan wegvat nie en ek het hom ook daarvoor vergewe! Ek het 'n ander kursus gaan doen wat my geleer het om 'n foto in 'n skildery te verander. Dit word gedoen met 'n grafiese bord wat by die rekenaar se USB poort ingedruk word en dit het 'n grafiese pen waarmee jy die skilder werk doen. In plaas van om met 'n klomp buisies verf te sit en klomp vuil klere en kwaste, kies jy die kwas op die rekenaar en ook die kleur verf, en siedaar! As jy 'n fout gemaak het, kliek net op "Edit" en "Undo".

Hierdie skildery word dan op doek (Canvas) gedruk en geraam en is baie bekostigbaar.

Dis eers al vir nou!!

 

Make a Free Website with Yola.